Spring na die inhoud
← Blog

Hoe om die eerste jaar ná 'n egskeiding te oorleef, sonder om jouself te verloor

Niemand berei jou voor op die stilte ná ‘n egskeiding nie. Die papierwerk word geteken, die mense hou op bel, en dan sit jy daar, in ‘n lewe wat skielik anders lyk as die een wat jy beplan het. Van buite hou jy aan met aangaan. Binne wonder jy dikwels: wie is ek nou?

As dit klink soos waar jy is, wil ek eerstens vir jou sê: jy is nie besig om te faal nie. Jy is besig om deur een van die grootste veranderinge te gaan wat ‘n mens kan beleef. Dit mág swaar wees.

Die grond het onder jou uitgeskuif

‘n Egskeiding is nie net die einde van ‘n huwelik nie. Dit is die einde van ‘n weergawe van jou toekoms. Die vakansies wat jy in jou kop gesien het, die “ons” in jou sinne, die rol wat vir jare gedefinieer het wie jy is. Dit is nie snaaks dat jy verlore voel nie, jy het regtig iets verloor.

Baie vroue vertel my hoe alleen hierdie tyd voel. Nie noodwendig omdat daar niemand is nie, maar omdat dit voel of niemand regtig verstaan hoe dit binne voel nie.

Dit is oukei om nie oukei te wees nie

Daar is ‘n stil druk op vroue om vinnig “sterk” te wees, om te wys hulle het dit alles onder beheer. Maar jy hoef nie. Woede, verligting, hartseer, skuldgevoel en hoop kan almal op dieselfde dag by jou kom kuier. Dit beteken nie jy is deurmekaar nie. Dit beteken jy is ‘n mens wat deur iets groots gaan.

Drie klein ankers vir die swaar dae

Jy hoef nie jou hele lewe uit te werk nie. Begin klein.

  1. Een roetine wat aan jou behoort. Iets wat net joune is, elke dag, hoe klein ook al. ‘n Koppie tee in die oggendson. ‘n Stap. Dit help jou liggaam onthou dat daar nog ‘n ritme in jou dae is.
  2. Grense sonder verskoning. Jy is niemand ‘n verduideliking skuldig oor wat jy nou nodig het nie. “Nee” is ‘n volledige sin.
  3. Een veilige mens. Nie tien nie. Een. Iemand by wie jy kan wees sonder om die sterk weergawe van jouself op te sit.

Jou storie is nog nie klaar nie

In die werk wat ek doen, glo ons een ding diep: jy is nie die probleem nie. Die egskeiding is nie ‘n bewys dat jy misluk het of dat iets fout is met jou nie. Dit is ‘n hoofstuk, nie die hele boek nie.

Stadig, saam, kan ‘n mens begin kyk na die storie wat jy oor jouself begin glo het, en vind waar jy steeds die een is wat die pen vashou. Waar jy kan besluit watter dele van hierdie nuwe hoofstuk jy self wil skryf.

Jy hoef dit nie alleen te dra nie

As jy voel jy sukkel om alleen deur hierdie seisoen te kom, is jy welkom om te kom praat. Ek loop as metgesel saam met vroue deur presies hierdie soort verandering, aanlyn, in Afrikaans, van die gemak van jou eie huis af.

Begin met ‘n gratis kennismakingsgesprek van ongeveer 15 minute. Geen druk nie, net ‘n plek om te begin.

Klink dit soos waar jy is?

Jy hoef nie hierdie seisoen alleen te dra nie. Kom ons gesels eers, gratis en sonder druk.