Spring na die inhoud

Oor Verona

Ek is 'n metgesel deur verandering, nie 'n kenner wat jou van 'n afstand af probeer regmaak nie.

Foto van Verona Prinsloo

Hoekom ek dit doen

My hart is by vroue wat deur 'n groot verandering gaan en wat dit stil-stil alleen probeer dra. So dikwels is daar niemand met wie sy haar ware gevoelens kan deel nie. Dit is juis dan dat 'n mens iemand nodig het wat langs jou stap.

Ek werk in Afrikaans, want jou moedertaal is die taal van jou hart. Om in jou eie taal gehoor te word, maak ’n verskil.

My eie storie

Ek skryf nie oor verandering uit ’n handboek nie. Ek het self deur baie van hierdie seisoene gestap.

Ek ken die seer van ’n egskeiding en die stil oorweldiging om skielik alleen vir alles verantwoordelik te wees. Ek ken die ingewikkelde pad van ’n hersaamgestelde gesin en die ontwrigting om na nuwe plekke en nuwe rolle te verskuif. Ek het die rou beleef toe kinders voor hul tyd die veiligheid van die huis moes verlaat. En ek ken die vreemde stilte van menopouse, wat ’n mens laat wonder wie jy nou eintlik is.

Ek deel dit nie vir medelye nie, maar omdat dit my iets geleer het: jy hoef hierdie seisoene nie alleen te dra nie. Ek verstaan verandering van binne af en ek weet ook dat daar aan die ander kant van die moeilike ’n nuwe begin wag.

My benadering

My werk is narratief en pastoraal. Dit beteken ek luister sag, ek oordeel nie en ons jaag nêrens heen nie. Ons kyk saam na jou storie en wat dit jou oor jouself wil laat glo. Ons evalueer hierdie gevolgtrekkings en vind plekke waar jy steeds die een is wat die storie skryf en kan herskryf as jy wil.

Ek glo nie jy is gebroke nie. Jy gaan deur ’n seisoen en jou storie is nog nie klaar nie.

Opleiding

Gevorderde Kursus in Narratiewe Pastorale Berading, Universiteit van Pretoria (Fakulteit Teologie en Religie, Sentrum vir Geloof en Gemeenskap), 2021, met lof toegeken.

Aanlyn en diskreet

Privaat ondersteuning van jou eie huis af, enige plek in Suid-Afrika. In persoon in Naboomspruit is ook moontlik as jy verkies.

Kom ons gesels

'n Kort, gratis gesprek op WhatsApp is die maklikste eerste tree.